Nuus > In diepte > Nuwe rade gaan kontrakte hersien

“Eerbare sakelui het niks te vrees nie”

Na die munisipale verkiesing is ‘n groot aantal munisipaliteite onder ‘n nuwe bewind. Die twee grootste hiervan is Nelson Mandelabaai en Tshwane, wat met die hulp van kleiner partye nou DA-burgemeesters het.

Johannesburg was met die skrywe hiervan nog op ‘n mespunt gebalanseer met die DA of die ANC wat die leiding kon neem.

Die vraag is: Wat hou dit vir sakelui in wat met dié rade handel dryf of dienste aan hulle lewer?

Normaalweg val die mantel met al die bestaande regte en verpligtinge van die vorige raad op die skouers van die nuwe raad, ongeag watter party in die verkiesing seëvier. Die DA se hoofonderhandelaar, Ryan Coetzee, en die EFF se nasionale voorsitter, adv. Dali Mpofu, het dit egter duidelik gemaak dat waar hulle die septer swaai, ‘n oudit gedoen sal word van alle bestaande munisipale kontrakte met diensverskaffers. Beide partye het groot gewag gemaak van hul standpunt teen korrupsie en dit is op grond daarvan dat hulle bestaande kontrakte met ‘n fynkam wil deurgaan, eerder as om sonder meer met korrupte kontrakte voort te gaan.

In Tshwane het die DA spesifiek die omstrede elektrisiteitslimmeterkontrak , die breëbandkontrak en die openbare-private vennootskap vir die bou van die nuwe munisipale hoofkantoor Tshwane-huis uitgesonder as kontrakte wat hulle onder die vergrootglas gaan plaas met die oog op kansellasie.

Waar laat dit sakelui wat tans met sulke munisipaliteite sake doen?

Adv. Werner Zybrands, kenner van munisipale bestuur, sê diegene wat op ‘n eerbare wyse handel dryf, niks hoef te vrees nie. Die munisipaliteite behoort eenvoudig bestaande kontrakte te eer en sou dit nie die geval wees nie, is daar genoeg meganismes om regsbeskerming aan verontregte kontrakteurs te verseker.

“Daar is egter twee situasies wat daartoe aanleiding kan gee dat ‘n nuwe raad ‘n kontrak met ‘n diensverskaffer regmatig beëindig”, sê Zybrands.

Eerstens kan die munisipaliteit ‘n onreëlmatige kontrak ter syde laat stel waar daar nie aan die wetsvoorskrifte voldoen is nie. Hy beklemtoon dat die bewyslas op die munisipaliteit berus om die hof van sodanige onreëlmatigheid te oortuig. As die munisipaliteit daarin slaag, sal die regsgevolge van sodanige tersydestelling deur die hof hanteer moet word. “As die onreëlmatigheid aan die kant van die munisipaliteit is en sonder die kontrakteur se medewete geskied het, bv. waar die munisipaliteite nie sy eie interne goedkeuringsprosesse gevolg het nie, sal die onskuldige kontrakteur hom kan beroep op die estoppel-regsbeginsel”, sê Zybrands. Dit behels dat die munisipaliteit gebind is aan sy eie wanvoorstelling (dat hy wel die nodige wetsvoorskrifte nagekom het) en die kontrak sal staande bly.

Tweedens, volgens Zybrands, is die ander situasie wat tot die beëindiging van ‘n kontrak kan lei, wanprestasie deur die kontrakteur. Hy sê daar is verskeie maatreëls in bestaande wette wat prestasiemeting verg. As die kontrakteur byvoorbeeld 1000 huise moes bou, maar net 40 gelewer het, stel hy hom bloot aan optrede deur die munisipaliteit. Daar is egter voorgeskrewe prosesse vir die beëindiging van so ‘n kontrak. Die munisipaliteite moet die kontrakteur in kennis stel dat hy in gebreke is om sy kontraktuele verpligtinge na te kom en hom ‘n kans gee om dit reg te stel. As die kontrakteur nalaat om die gebreke te herstel, kan die munisipaliteit die kontrak beëindig.

Zybrands verwag nie ‘n vlaag litigasie in reaksie op die oudit van kontrakte deur nuwe rade nie. Hy sê as die rade een of twee groot sake takel en dit voluit voer deur die geld wat in terme van bedenklike kontrakte uitbetaal is
deur siviele aksie te verhaal, sal sakelui wat geraak word gou besef hulle sakke is nie so diep soos die van die munisipaliteit nie en skikkings aangaan of retireer.

Lex Middelberg, DA-raadslid in Tshwane en partywoordvoerder in die stad oor finansies voor die verkiesing, het gesê as die DA wel die Tshwane-huis kontrak kanselleer, sal die kontrakteur, ‘n konsortium onder leiding van die genoteerde konstruksiegroep Group Five, na verwagting volgens die regsbeginsel van verryking vergoed word vir die bouwerk wat reeds verrig is. Dit beteken dat die kontrakteur vergoed word vir die waarde waarmee hy verarm is of die munisipaliteite verryk is, watter bedrag ook al die kleinste van die twee is.

TUIS     NUUS     INISIATIEWE     ARBEIDSREG     VERSLAE     KONTAK ONS

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.
TEKEN IN

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!