Nuus > In diepte > OnteieningsWetsontwerp: Is jou plaaswerkers uitgelewer?

Die voorgestelde Onteieningswetsontwerp wat voor die einde van die jaar op die Wetboek geplaas kan word, is minder rooskleurig vir plaaswerkers en plaasbewoners as wat dit op die oog af lyk.

Dit is die mening van dr. Anthea Jeffery, hoof: Beleidsnavorsing by die Instituut vir Rassebetrekkinge.

AfriSake se woordvoerder, Stefan Pieterse, sê dié organisasie steun Jeffery se standpunt en het drie van die land se voorste advokate opdrag gegee om regsmenings oor dié Wetsontwerp se grondwetlikheid en moontlike aanvegbaarheid vir AfriSake te skryf. “Dit sal weldra op AfriSake se webblad gepubliseer word,” het Pieterse gesê.

Die Onteieningswetsontwerp is reeds deur die Nasionale Vergadering goedgekeur en die Nasionale Raad van Provinsies is tans besig met ʼn openbare deelnameproses in elke provinsie ten einde ʼn mandaat te formuleer wanneer finaal daaroor besluit moet word.

Jeffery sê daar is ʼn moontlikheid dat die Wetsontwerp ook na die Huis van Tradisionele Leiers (Contralesa) vir konsultasie verwys sal word. Volgens Pieterse sal die regerende party egter hul bes probeer om die Wetsontwerp voor die aanvang van die munisipale verkiesings op 3 Augustus 2016 in die Wetboek te plaas.

Annelize Crosby, regs-en beleidsadviseur by AgriSA, sê die bestaande Wet maak net voorsiening vir die onteiening van bestaande regte met betrekking tot vaste eiendom.

Bo en behalwe eiendomsreg sluit dit, byvoorbeeld, ook serwitute, langtermyn­huurooreenkomste en vruggebruik in. Dié soort regte is in die aktekantoor geregistreer en as die eiendom van hande verwissel, word die nuwe eienaar ook daardeur gebind. Hy moet byvoorbeeld die serwituut wat ʼn buurman die reg gee om ʼn pad oor sy plaas te gebruik, eerbiedig.

Die onteieningswetsontwerp maak vir die eerste keer voorsiening vir die onteiening van ongeregistreerde regte. Dit is tipies die regte van plaaswerkers en hul families om op die plaas te woon en hul vee daar te laat wei.

Crosby sê as die Wetsontwerp goedgekeur word, sal houers van sulke regte vir die eerste keer ook geregtig wees op vergoeding as die eiendom onteien word, maar dit is nie heeltemal duidelik hoe die vergoeding sal werk nie.

Daar is ʼn verpligting op die grondeienaar om, wanneer hy ʼn onteieningskennisgewing ontvang, die onteieningsliggaam van die bestaan van sulke regte in kennis te stel, in so verre hy daarvan kennis dra. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat die onteieningsliggaam dan direk met die houers van ongeregistreerde regte (die werkers) oor vergoeding sal onderhandel.

Crosby sê die verpligting om nou ook hierdie belangegroep te vergoed, behoort nie die bedrag wat die plaaseienaar as vergoeding ontvang, te raak nie. Die eienaar is geregtig op billike en regverdige vergoeding wat gegrond is op die waardasie van sy eiendom en dié reg word in die Grondwet gewaarborg. “Dit kan egter wel die regering se begroting vir grondonteiening raak.”

Crosby is nie bekommerd dat die onteiening langer gaan sloer weens die bykomende proses met betrekking tot ongeregistreerde regte nie, die spertye word duidelik in die Wetsontwerp uitgespel.

Jeffrey sê ongeregistreerde regte – die regte van plaasbewoners – word outomaties beëindig op die datum van onteiening wat op die onteieningskennisgewing aangedui word. “Die reg op okkupasie kom tot ʼn einde wanneer die nuwe eienaar besit neem,” sê sy. Dit is egter moontlik, en in die praktyk gebeur dit dikwels, dat die onteieningsowerheid die regte mag verleng en die plaasbewoners toelaat om langer op die grond aan te bly.

Jeffrey meen egter plaasbewoners se reg op vergoeding beteken nie veel nie. Vergoeding word bereken op grond van die markwaarde van die reg met inagneming van verskeie faktore, waaronder die doel van die onteiening, die geskiedenis van die verkryging van die eiendom, of die staat voorheen subsidies in dié verband verleen het, en die gebruik van die grond.

“Hulle kan op die ou end baie min uitkry,” sê sy, omdat die ongeregistreerde regte nie werklik in die mark waarde het nie en dit is nie werklik verhandelbaar nie,” aldus Jeffery.

Jeffery meen verder dit sou billiker wees om plaasbewoners vir werklike, direkte verliese, soos verhuisingskoste en vergoeding vir werksverliese, te vergoed. “Hulle moet ander blyplek kry en kan hul vee verloor. Die Wetsontwerp is in stryd met bepalings van die Grondwet wat beskerming teen uitsetting uit ʼn mens se woning bied, ” meen sy.

Die verband tussen die Wetsontwerp en die sogenaamde ESTA-wet is ook nie duidelik nie, sê Jeffery. Die “Extension of Tenure Act” (ESTA) beskerm wettige okkupeerders van landbougrond teen uitsetting. “Boere kan plaaswerkers nie uitsit sonder om aan verskeie vereistes te voldoen nie. Die nuwe Wetsontwerp maak nie voorsiening vir soortgelyke prosesse wanneer ʼn plaas onteien word nie,” sê sy.

Pieterse wil weet waar die plaaswerkers wat byvoorbeeld al vir 20-30 jaar op ʼn plaas bly, en geen ander heenkome het nie, gaan bly en werk? “Dit is die realiteit van die onteiening,” sê Pieterse.

Jeffery sê in die openbare diskoers is daar tans baie min fokus op die weerloosheid van plaasbewoners, sou die Wetsontwerp goedgekeur word. Sy het pas een van die openbare verhore van die Nasionale Raad van Provinsies bygewoon en dit het hoegenaamd nie daar ter sprake gekom nie. Sy sê as die Wetsontwerp vir konsultasie na Contralesa verwys word, kan dit langer as verwag duur voor dit finaal goedgekeur en van krag gemaak word. “Hoe dit ook al sy, daar is tans nog ʼn beperkte geleentheid om veranderinge aan te bring,” sê sy.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié organisasie is baie bekommerd oor, wat hy noem, die ‘diskriminerende aard’ van die Onteieningswetsontwerp en ESTA.

Hy sê ʼn werknemer wat 30 jaar in ʼn weermaghuis bly, vestig nie regte in die eiendom nie en vra waarom plaaswerkers oor ʼn ander kam geskeer word. “Boonop is nie net die werkers self nie, maar die breër families ook hier ter sprake. Om op so ʼn wyse regte op plaasgrond aan plaaswerkers te gee, is soos om ‘deel van ʼn fabriek’ af te staan”, sê hy.

Van Zyl sê verder dit is nie duidelik tot watter mate die regering plaasbewoners se regte gaan eer en hulle met onteiening gaan vergoed as die Wetsontwerp aanvaar word nie. “Die bepalings in die Onteieningswetsontwerp is nie volhoubaar nie. Dit vestig regte vir mense wat vir hulle niks beteken nie. Die werkers word vir die wolwe gegooi. Die regering is nie eerlik met die mense nie,” sê hy.

Hy meen dit is ook die geval wanneer die regering versuim om die grond se titelakte aan begunstigdes van onteiening te oorhandig. Die begunstigdes kan as gevolg daarvan nie finansiering vir hul boerderybedrywighede kry nie. “Die mense sit in ʼn dodeakker en kan nie daar uitkom nie,” sê Van Zyl.

“Ons kan nie die Wetsontwerp aanveg omdat dit nog nie wetlike status het nie, maar berei ons voor om verskeie aspekte hierbo in die hof te beveg wanneer die Wetsontwerp finaal deur die President goedgekeur en afgeteken word. Dan kort ons net die regte feitestelle om die hof te nader,” het Pieterse afgesluit.

TUIS     NUUS     INISIATIEWE     ARBEIDSREG     VERSLAE     KONTAK ONS

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.
TEKEN IN

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!