Nuus > In diepte > Word jou onderneming se kragrekening gelaai?

Sakelui wat ruimte in kantoorblokke of winkelsentrums huur, se kragrekenings word dikwels gelaai deur herverkopers van elektrisiteit.

Herverkopers was tot dusver ongereguleerd, maar die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het pas riglyne bekend gemaak as ‘n eerste stap om die bedryf te reguleer. Die riglyne stel dit duidelik dat verbruikers onregmatige oorverhalings deur siviele regsaksie kan verhaal.

Volgens die riglyne mag verbruikers nie slegter af wees as diegene wat krag direk van die plaaslike lisensiehouer, naamlik die munisipaliteit of Eskom, koop nie.

  • Herverkopers mag niks by die plaaslike Nersa-goedkeuringsliggaam se kragtariewe voeg nie. Dié tariewe, asook die volledige riglyne, is op die Nersa-webblad beskikbaar.
  • Herverlopers mag sekere kostes, soos die instandhouding van die eiendom en die administrasie van hul kontrakte, met eindverbruikersrekeninge verhaal, maar dit moet deur middel van deeltitelheffings gedoen word en nie deur middel van die kragtarief nie.
  • Nersa bepaal egter dat herverkopers hoegenaamd geen ekstra koste mag hef vir meterlesings, die verkoop van vooruitbetaalde krag (‘vending’), die lewering van rekenings, en voldoening aan regulatoriese vereistes nie.

Volgens Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, is daar duisende maatskappye in SA (veral klein en medium maatskappye) wat vir elektrisiteit aan oorverhaling blootgestel word sonder dat hulle enige iets daaraan kan doen. “Hierdie ondernemings het dikwels net twee opsies: Betaal, of jou krag word afgesny,” het Pieterse gesê.

  • Die reguleerder gee duidelike voorskrifte van die inligting wat op eindverbruikers se rekeninge, of in die geval van voorafbetaalde krag op hul kwitansies moet verskyn, ten einde die gebruikers in staat te stel om hul rekeninge te verstaan en indien nodig, te bevraagteken.
  • Bogenoemde voorskrifte sluit ‘n duidelike uiteensetting in van kostes wat gehef word met betrekking tot gemeenskaplike areas soos parkeerterreine by ‘n kompleks. Die herverkoper moet stipuleer hoeveel eenhede elektrisiteit by die gemeenskaplike areas gebruik is en hoe dit tussen die individuele eenhede verdeel word.
  • Daar word verder ‘n verpligting geplaas op herverkopers om kontakbesonderhede aan elke eindverbruiker te verskaf waar hulle kragonderbrekings kan aanmeld. Volgens Nersa moet herverkopers binne ‘n redelike tyd en doeltreffend op sulke situasies reageer.
  • Herverkopers moet in vervolg by hul gelisensieerde plaaslike kragverspreiders, die munisipaliteit of Eskom, registreer en ‘n diensvlak-ooreenkoms met die verspreider aangaan.
  • Herverkopers is ook onderworpe aan dieselfde veiligheidstandaarde as die plaaslike kragverspreider.
  • Herverkopers moet die vermoë hê om op versoek van die eindverbruiker die elektrisiteitsmeter te toets.
  • Kragvoorsiening mag vir geen ander rede as wanbetaling afgesny word nie.

Die rol van herverkopers

Daar is geen twyfel dat herverkopers ‘n belangrike rol speel in die voorsieningsketting nie.

  • Die rol het ontwikkel namate veral munisipaliteite toenemend by eiendomsontwikkelings krag net tot by die grensdraad gebring het. Hulle verskaf krag by een punt op ‘n erf en die ontwikkelaar installeer die interne vespreidingsnetwerk na die individuele eenhede, hetsy dit kantore, winkels of residensiële eenhede is.
  • Na die ontwikkelingsfase word die eiendom gewoonlik oorgedra na een nuwe eienaar, of verskeie eienaars van eenhede en ‘n beheerliggaam bestaande uit al die eienaars saam, wat verantwoordelik is vir die bestuur van die gemeenskaplike area.
  • Die eienaar van die kompleks of beheerliggaam kontrakteer dikwels die bestuur van die kragstelsel en die rekeninge, of net die rekeninge, uit aan ‘n derde party wat op die gebied spesialiseer, naamlik die herverkoper.
  • Die herverkoper kry die grootmaatlesing van die munisipaliteit en moet sorg dat dit korrek verdeel word volgens die korrekte meterlesings van elke eenheid plus elke eenheid se proporsionele deel van die kragrekening vir die gemeenskaplike area.
  • Die rekening by die munisipaliteite is soms in die naam van die herverkoper en soms in die naam van die kompleks of sy eienaar.
  • Verskeie groot eiendomsgroepe, eiendomsbestuursmaatskappye en herverkopers het geweldig baie kundigheid opgebou om die taak professioneel te kan verrig. Daar is egter ook veral kleiner spelers wat opportunisties is en onregmatig geweldige wins uit die herverkoop van elektrisiteit maak.

“Die publiek moet seker maak hul ken hul regte en dat dit toegepas word – die onus rus op die uiteindelike verbruiker om seker te maak hy word nie benadeel nie,”  het Pieterse gesê.

Dit gebeur egter soms dat herverkopers die kragkoste by die verskillende eenhede invorder en dit nooit aan die munisipaliteite oorbetaal nie. Die inwoners besef dit eers wanneer die munisipaliteit die hele kompleks se krag afsny en sit dan dikwels met ‘n paar maande se uitstaande rekeninge en tensy hulle dit van die herverkoper kan verhaal, moet hulle self opdok om hulle kragvoorsiening the herstel.

Byron Taylor, voorsitter van die Vereniging van Elektrisiteitsherverkopers (Erasa), sê die organisasie verteenwoordig sowat 70% van die groot herverkopers in die land. Erasa se gedragskode omvat reeds die meeste van die vereistes wat Nersa in die riglyne uiteensit en volgens Taylor  hoef hulle nie groot aanpassings te maak om daaraan te voldoen nie.

Hy sê Erasa-lede het die afgelope sewe jaar verskeie werkswinkels en vergaderings met Nersa bygewoon ter voorbereiding vir beter regulering van die bedryf. Die organisasie het gesien in watter rigting Nersa dink en by voorbaat toegesien dat hul bedrywighede aan die voorskrifte voldoen. Hy beklemtoon egter dat ander en veral kleiner herverkopers die een heffing na die ander by die goedgekeurde kragtariewe voeg.

Eric Bott, tegniese direkteur van Energy Measurement Consulting (EMC) wat namens kliënte, waaronder groot kleinhandelgroepe, ondersoek instel na hul kragkostes, het in een klein kantoorblok ‘n oorverhaling van 30% by een eenheid en ‘n onderverhaling by ander eenhede gevind. Hy sê oorverhaling by winkelsentrums is ook aan die orde van die dag.

Die meeste metrorade het deesdae ‘n spesiale tarief waarteen herverkopers grootmaatkrag by hulle kan aankoop. Dit is ‘n afslagtarief wat ruimte laat om wins te maak wanneer hulle teen die bestaande munisipale kleinhandeltariewe aan eindverbruikers krag verkoop. Nersa bepaal duidelik dat sulke herverkoperstariewe herverkopers in staat moet stel om wins te kan maak.

In ander munisipaliteite kan herverkopers krag aankoop teen grootmaattariewe wat beskikbaar is vir kommersiële en industriële kliënte en dit herverkoop teen dieselfde tarief wat van toepassing is op die munisipaliteit se eindverbruikers.

Volgens die riglyne moet herverkopers meganismes voorsien om klagtes van verbruikers te hanteer. Hulle moet duidelik op eindverbruikers se fakture of kragrekenings aandui hoe verbruikers toegang tot die meganismes kan kry.

Verbruikers moet klagtes eers by die herverkoper aanmeld. As hulle nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, kan die verbruiker hom na die munisipaliteite wend en as dit nie werk nie, na Nersa.

Elke gelisensieerde kragverspreider moet gereeld aan Nersa verslag lewer oor die herverkopers wat by hom geregistreer is en die klagtes wat oor elk ontvang is.

Die volgende items moet op kragrekenings verskyn:

  • die hoeveelheid kWh verbruik;
  • die tarief per kWh;
  • die rekeningperiode;
  • die totale bedrag wat in Rand verskuldig is; en
  • die telefoonnommer en e-posadres van die herverkoper.

Die volgende moet op kwitansies vir voorafbetaalde krag verskyn:

  • ʼn Uiteensetting van die kostes en heffings soos deur Nersa goedgekeur.
TUIS     NUUS     INISIATIEWE     ARBEIDSREG     VERSLAE     KONTAK ONS

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.
TEKEN IN

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!