Nuus > In die media > AfriSake stel strategiese prioriteite vir ’n selfstandige sakegemeenskap bekend

Die sakebelange-organisasie AfriSake het vandag sy strategiese prioriteite vir ’n selfstandige sakegemeenskap bekend gestel. Dié bekendstelling het deel gevorm van AfriSake se konferensie “Vooruitsigte vir staatsbestande sake – hoe ondernemings kan slaag wanneer die staat misluk”, wat vandag in Pretoria plaasgevind het.

Die konferensie, wat deur meer as 300 sakelui, sakekamerverteenwoordigers, akademici, regslui en gemeenskapsleiers bygewoon is, het in die Atterbury Teater in Pretoria plaasgevind. Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê die konferensie was ’n groot sukses. “Ons weet dit is tradisioneel die staat se rol om ’n stabiele sake-omgewing te vestig. Ons weet egter ook dat hierdie regeringsrol in Suid-Afrika in praktyk toenemend te kort skiet. Die ekonomie is egter té belangrik om aan politici oor te laat. Daarom het ons top- plaaslike en internasionale kenners genooi om te praat oor wat sakelui kan doen om sélf ’n gunstige sake-omgewing te skep.”

AfriSake glo dat dit in die hele land se belang is dat sakelui verantwoordelikheid neem om self ’n gunstige sake-omgewing te skep indien die regering versuim om dit te doen. “Net omdat die staat hierin misluk, beteken dit nie dat daar niks is wat sakelui of die publiek daaraan behoort te doen nie. ’n Gunstige sake-omgewing is onontbeerlik vir die produksie van goedere ten einde ’n voorspoedige en vreedsame samelewing moontlik te maak. Om self ’n gunstige sake-omgewing te skep, is in sakelui se persoonlike én in algemene ekonomiese belang – dit is trouens in die belang van die konstitusionele orde self.”

“Om verantwoordelikheid te aanvaar, is die regte ding om te doen,” sê Le Roux. “Dit kan wees dat die politiek in Suid-Afrika in die toekoms drasties verbeter en dat die staat en staatsinstellings weer verbeter. Aan die ander kant is dit die realiteit dat die staat tans op baie dimensies verswak. Goeie risikobestuur vereis dat sakelui nie net blindelings hul hoop op politici plaas nie, maar ook intussen alternatiewe in plek stel indien die staat verder sou verswak.”

’n Selfstandige sakegemeenskap

AfriSake het by sy konferensie ook sy strategie vir ’n selfstandige sakegemeenskap bekend gestel.

’n Selfstandige sakegemeenskap is ’n gemeenskap van sakelui met die volgende drie eienskappe:

  1. Hulle is staatsbestand: Hul onderskeie ondernemings is so bestand moontlik teen politieke risiko’s soos onteiening, afgedwonge aandeleverkope en ander vorme van skadelike staatsinmenging.
  2. Hulle het bedingingsmag: Om kollektief met die regering vir ’n billike verhouding te beding en om tot ’n gunstige sake-omgewing by te dra.
  3. Hulle het institusionele alternatiewe: Om deur selfregulering en privaat infrastruktuur ’n alternatiewe sake-omgewing te skep waarbinne ekonomiese aktiwiteit deur sy lede en enigiemand anders voortgesit kan word indien die omgewing wat die staat skep ontoereikend is.

AfriSake se strategiese prioriteite

AfriSake beoog om sy visie vir ’n selfstandige sakegemeenskap met die volgende drie strategiese prioriteite te bewerkstellig:

  1. Sakekamerstrategie: AfriSake gaan sigself op die daarstelling van ’n uitgebreide netwerk van sakekamers en bedryfsaffiliasies toespits ten einde met die grootste moontlike bedingingsmag met die regering te skakel om ’n gunstige sake-omgewing te bevorder.
  2. Institusionele strategie: AfriSake gaan ’n sakekode ontwikkel waaraan sy lede geken kan word en wat die basis vir onderlinge samewerking en aantreklike handelsverhoudinge vestig. AfriSake gaan hom beywer vir toegang vir klein en medium sakeondernemings tot alternatiewe kommersiële geskilbeslegting, soos privaat mediasie en arbitrasie.
  3. Lede-ondersteuningstrategie: AfriSake gaan sy lede by wyse van advies en regsaksie bystaan om hul ondernemings en sake-omgewings teen nadelige staatsinmenging en ander politieke risiko’s bestand te maak.

Le Roux sê daar is uiteraard ook ander elemente tot AfriSake se strategie, maar dat hierdie drie prioriteite eerste aandag sal geniet.

 Oor die konferensie

Onderwerpe en sprekers het ingesluit:

  • Hoekom jy jou sake staatsbestand moet maak – dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge;
  • Die voordele van mededinging tussen state – prof. Philipp Bagus, professor in ekonomie by die Rey Juan Carlos Universiteit in Spanje en ontvanger van die 2016 Ludwig Erhard-prys;
  • Nie staatsbestand nie: Lesse uit Zimbabwe – Russell Lamberti, stigter van ETM Macro Strategists; mede-outeur van When money destroys nations – How hyperinflation ruined Zimbabwe;
  • AfriSake se visie vir ’n selfstandige sakegemeenskap – Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake;
  • Staatsbestande geld – Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep;
  • Staatsbestande identiteit en reputasie – Schalk Dormehl, medestigter van Octobase en kettinglêerkenner;
  • Staatsbestande geskilbeslegting – John Brand, spesialis in alternatiewe geskilbeslegting;
  • Staatsbestande elektrisiteit – prof. Willie Cronje, Alstom-leerstoel vir skoon energiestelseltegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand; en
  • Staatsbestande korporatiewe strukture – Jacques Classen, ’n prokureur wat in eiendomsreg en administratiefreg spesialiseer. 

Oor AfriSake

AfriSake is ’n sakebelange-organisasie met meer as 12 000 lede landwyd. Die organisasie is in 2011 gestig. AfriSake bestaan om ’n konstitusionele orde, vrye markte, eiendomsreg, ekonomiese voorspoed en ’n gunstige sake-omgewing in die belang van sy lede te beding en te skep, asook in die gemeenskaplike belang waar ook al sy lede sake doen.

AfriSake gee uitdrukking aan hierdie missie deur:

  1. Vryemarkleierskap ter bevordering van ’n konstitusionele orde, vrye markte en eiendomsreg, waarby inbegrepe openbare beleidsinspraak, deelname aan die openbare debat en regsaksie op plaaslike, nasionale en internasionale vlak;
  2. Die bevordering van ’n selfstandige sakegemeenskap, met institusionele infrastruktuur sodat sy lede en hul kliënte, klante en vennote sake kan doen ongeag ekonomiese en politiese omgewingsfaktore;
  3. Individuele lede-ondersteuning wat behels hulp soos arbeidsregadvies, opleiding, algemene regsadvies wat van tyd tot tyd aan lede gebied word; en
  4. Welwillendheid, ingevolge waarvan lede se ruimhartige bydraes na verdienstelike sake soos onderwys en ander gemeenskapsbehoeftes gekanaliseer word.

 

TUIS     NUUS     INISIATIEWE     ARBEIDSREG     VERSLAE     KONTAK ONS

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.
TEKEN IN

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!