Nuus > In die media > Motsoaledi stel openbare gesondheid in gevaar met toenemende nasionalisering

Dr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid, stel openbare gesondheid in gevaar met sy toenemende nasionalisering van die gesondheidsorgbedryf. Dit is die mening van die sakebelange-organisasie AfriSake nadat Motsoaledi onlangs die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas vrygestel het.

Volgens Piet le Roux, Hoof Uitvoerende Beampte van AfriSake, “sal die NGV nie lede hê nie, maar slagoffers. Met sy verbintenis tot ʼn nasionale gesondheidsversekeringskema skakel Motsoaledi die gesondheidsorgbedryf om in ʼn staatsbeheerde onderneming, en mediese versekering in belasting. Dit stuur af op ʼn ramp. Motsoaledi laat slegs nominale ruimte vir die private sektor – in wese nasionaliseer hy die gesondheidsorgbedryf. Die gevolg sal dieselfde wees as met alle ander nasionaliserings: verlaging van gehalte, rantsoenering van dienste, korrupsie en burokratisering.”

Die NGV-wetsontwerp onthul die struktuur van die befondsing van die NGV. Dit is ʼn stelsel met ʼn enkele betaler waarin die regering goedgekeurde private en openbare gesondheidsdiensverskaffers terugbetaal vir dienste wat aan NGV-lede gelewer is. Bydraes tot die NGV-fonds sal verpligtend wees. AfriSake is bekommerd dat die gedwonge betaling van alle gesondheidsorgfondse in een reuse-, burokratiese, staatsbeheerde stelsel net nog ʼn belasting gaan wees in ʼn land wat reeds onder korrupsie en staatskaping ly.

Minister Motsoaledi hou aan om die goeie bedoelings met hierdie enorme en allesomvattende ingryping in die gesondheidsorgbedryf te beklemtoon – dit sal glo “goeie gehalte gesondheidsorg” vir almal in Suid-Afrika verseker – maar hy beantwoord nie een van die moeiliker vrae oor die NGV nie. Die moeiliker vrae sluit in die enorme finansieringskoste van die NGV en die nadelige impak wat dit waarskynlik op die marklewering van mediese dienste sal hê.

In die witskrif oor die NGV wat in 2016 vir kommentaar vrygestel is, was die geprojekteerde befondsingskoste vir die 2026-boekjaar ongeveer R256 miljard (bereken teen 2010-pryse); dit is ongeveer 6,2% van die geprojekteerde Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir die 2026-boekjaar. Die 2010-projeksies was egter gebaseer op ʼn ekonomiese groeikoers van minstens 3,5% per jaar, wat tans onbereikbaar lyk. Daarom sal die werklike befondsingskoste waarskynlik die projeksie van 6,2% BBP in die 2026-boekjaar ver oorskry.

Le Roux het verder gesê: “As gevolg van Suid-Afrika se byna stagnante ekonomiese groei en laer belastinginkomste is die NGV nou selfs minder bekostigbaar as voorheen.”

Hy voeg by: “As ons groepe soos die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum se skattings van die koste om die NGV te befonds in ag neem, kan dié koste nader aan 12,5% van die BBP wees, wat naby aan die helfte van die regering se nasionale begroting is – iets wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig nie.”

“Die Minister bly sy kleuterrympie herhaal dat die rykes die armes moet subsidieer, en dat die gesonde die siekes moet subsidieer, en stedelinge die platteland, en hy steur hom glad nie aan die moontlike markverwringing en ontmoediging van so ʼn stelsel nie. Die klein en reeds oorbelaste poel belastingbetalers sal ten volle verantwoordelik wees vir die finansiering van die NGV, en dit is onbegryplik dat die Minister eerlik glo so ʼn plan kan werk.”

“Die Minister bly wegskram van ʼn ware debat oor die NGV deur byvoorbeeld kritiek op die disfunksionele openbare gesondheidsorgstelsel te misken. Hy weier om ag te slaan op versoeke dat die openbare gesondheidsorgstelsel eers dramaties verbeter moet word voordat die NGV geïmplementeer word. Die openbare gesondheidsorgstelsel is chaoties as gevolg van rompslomp en onbevoegdheid wat onlangs daartoe gelei het dat mediese poste vakant bly terwyl pas-afgestudeerde dokters wag om geplaas te word. Die Gautengse departement van gesondheid se hantering van die Life Esidimeni-tragedie wek ook ernstige kommer oor die wysheid daarvan om gesondheidsorg in ʼn reuse-, duur staatsburokrasie te sentraliseer,” sê Le Roux.

Le Roux kom tot die gevolgtrekking dat Motsoaledi se voorneme duidelik is: Hy wil die hele gesondheidsorgsektor verander in ʼn reusestaatsbeheerde onderneming, maar in teenstelling met Eskom, die SAA en ander wanbestuurde staatsentiteite sal dit lewens direk op die spel plaas.

 

TUIS     NUUS     INISIATIEWE     ARBEIDSREG     VERSLAE     KONTAK ONS

TEKEN IN

Ons nuusbrief is maandeliks.
TEKEN IN

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!